10 wenke vir magietyd

baby-under-the-towel

Wenk 1
Meer magietyd
As jou baba gereeld op haar magie lê, versterk dit haar nek-, rug- en skouerspiere en help dit die romp, skouers en heupe stabiliseer. Jou kind leer om haar lyfie in die omgewing te beheer, en dit help met balans, koördinasie en liggaamsbeheer, wat die basis vorm van alle bewegings.

Jare lank al word ons vertel dat die beste manier om wiegiedood te voorkom, is om baba op haar rug te laat slaap, en dit is waar. Maar dié veldtog was nie sonder sy nadele nie: Studies het getoon babas wat op hul rug slaap, geneig is om motories stadiger te ontwikkel as babas wat op hul magie slaap en dat hulle eers later sit, omrol en kruip.

Dié wat in hul wakker tye meer tyd op hul maag deurgebring het, het heelwat beter gevaar in toetse van motoriese vaardighede as dié wat min of geen wakker tyd op hul maag deurgebring het nie. Babas wat min op hul maag is, kan ook vir ’n korter tydperk kruip, wat kan beteken dat dit hulle langer neem om die middellyn oor te steek.

Wenk 2
Doen dit wanneer sy goed voel
Die ideaal is om magietyd by jul normale roetine in te bou. Elke keer wanneer jy haar doek ruil, kan jy haar byvoorbeeld gou op haar magie neerlê. Vermy dit direk ná voedings, aangesien die drukking op die maag kan veroorsaak dat sy melk opbring.

Wenk 3
Begin met geboorte
Die American Academy of Pediatrics sê magietyd kan al begin op die dag wanneer jou baba van die hospitaal af huis toe kom – so help jy haar daaraan gewoond raak. Plaas haar twee tot drie keer per dag vir kort rukkies op haar maag.

Drie tot vyf minute is genoeg, veral as jou baba dit nie geniet nie. Namate sy ouer word en haar spiertjies versterk, kan jy die tyd op haar magie ál langer maak en sal jy ook vind dat jou baba dit ál meer geniet.

Wenk 4
Bly veilig
Al is magietyd belangrik vir jou kleinding se ontwikkeling, moet jy nie in die versoeking beland om haar so te laat slaap nie. Dit verhoog die risiko van wiegiedood aansienlik. Moenie jou baba alleen laat terwyl sy op haar magie lê nie.

Wenk 5
Byt vas
Jou baba kan dit aanvanklik haat om op haar magie te lê, veral as sy nie van geboorte af gereeld so neergelê is nie, en sal luidkeels beswaar aanteken.

Dis immers harde werk: As sy iets wil sien, moet sy haar koppie lig, iets wat glad nie nodig is as sy regop in ’n motorstoeltjie sit of op haar rug lê nie. Onthou dat dit haar nie seermaak om op haar magie te lê nie – sy hou net nie daarvan nie, want sy is dit nie gewoond nie en haar spiere is nog nie goed ontwikkel nie.

Probeer haar aandag aftrek met musiek, deur te gesels of met ’n speelding. As sy erg gefrustreerd raak, kan jy ’n opgerolde handdoek of kussinkie onder haar bors indruk (arms vorentoe) sodat sy makliker kan rondkyk. Sodra sy meer krag in haar bolyf ontwikkel, kan jy hierdie ondersteuning wegneem.

Wenk 6
Soveel moontlik vloertyd
Met so baie geriefsmiddels soos elektroniese swaaie en wiegies, motorstoeltjies en drasakke waarin baba regop kan sit, gebeur dit maklik dat babas byna nooit op ’n kombersie plat op die vloer neergelê word nie. Die probleem is dat jou kleinding in hierdie geriefsmiddels eintlik bitter min die geleentheid kry om die spiere in haar bolyf te oefen.

Die posisie wat haar die heel meeste geleentheid gee vir spieroefening is op haar maag op die vloer. Gooi ’n warm kombersie vir haar oop of sit haar op ’n interessante speelmat neer. Op die vloer kry sy kans om uit te reik en die wêreld om haar uit ’n ander hoek te beskou sodat haar aanvanklike frustrasie gou sal verdwyn namate haar spiertjies ál sterker word.

Wenk 7
Help haar die wêreld ontdek
Magietyd versterk nie net jou baba se spiere nie, navorsers reken die vryheid wat dit jou kleinding bied om die wêreld om haar te ontdek, stimuleer ook haar breinontwikkeling. Sit ’n speelding voor of langs jou kind neer sodat sy haar kop moet oplig om daarna te kyk en later daarna kan reik. Jy kan ook daar gaan lê.

As baba reeds stabiel genoeg is om gewig van een hand na ’n ander te verplaas, kan jy speelgoed op ’n plek sit waar sy daarna kan gryp. Sodra sy meer beweeglik raak, kan jy die speelgoed in ’n sirkel om haar uitpak, net buite haar bereik, sodat sy haar lyf moet manipuleer om dit by te kom.

Wenk 8
Bindingstyd
Julle kan heerlike saamweestyd so geniet – daar is niks lekkerder as ’n baba wat rustig op haar magie op jou bors lê nie! Terwyl baba se nekkie nog te swak is om vir ’n lang ruk te lig, kan jy langs haar lê en met haar gesels of vir haar sing.

Speel met haar handjies, kyk in haar ogies. As sy ouer is en haar kop langer gelig kan hou, lê gesig teen gesig voor jou kleinding. Sy sal haar kop lig om vir jou te kyk. Verander van posisie om haar aan te moedig om haar kop te beweeg.

Wenk 9
Maak magietyd pret
Daar is baie wat jy kan doen om magietyd ’n spesiale tyd vir jou kleinding te maak. Sit jou baba neer op ’n kombersie met helder kleure of interessante patrone sodat sy dit kan bestudeer, of op ’n speelmat met interessante teksture, kleure en vorms.

Sit ’n spieëltjie voor jou kleinding neer of mooi, vrolik gekleurde speelgoed. Dit sal haar aanmoedig om haar kop te lig en ouer babas om te strek tot hulle aan die speelding kan raak.

Wenk 10
Uitdagings wat by haar ouderdom pas
Jy kan baba uit die staanspoor op haar magie op ’n kombers laat lê. Sy sal dalk baie kla; moet haar dus nie te lank op ’n slag so laat lê nie – vyf tot 10 minute elke dag is nou genoeg. ’n Makliker alternatief is om self plat op jou rug met baba op jou bors lê. Jy kan baba ook die eerste paar weke op haar magie dwarsoor jou skoot laat lê terwyl jy regop sit.

Vanaf sowat drie maande is haar nek al sterker en sal sy haar kop kan oplig en draai. Ideaal gesproke moet jou kleinding teen drie maande elke dag altesaam ’n uur magietyd hê. Hoe meer gewoond sy daaraan raak, hoe langer kan jy die tyd op die vloer maak.

Bron: Baba en Kleuter

Related posts

Leave a Comment