Mamma…..Waar Is Die Hemel?

child-sitting-1816400_960_720

Deur Emsie Fuhri

Dood is ‘n normale gang van die lewe, maar dis moeiliker as dit iemand naby aan ons is. Soms is die dood van ‘n geliefde moeilik om te verwerk. Volgens Sigmund Freud is dit nog moeiliker vir jonger kinders om te rou. Studies het het ook getoon dat kinders wel die vermoë het om te rou, maar die proses vat baie langer om te verwerk as vir volwassenes.
Dis ‘n belangrike stap tot genesing om hartseer te voel en soms uiting te gee deur te huil en die proses is nodig vir die verwerking van ons gevoelens. Ouers voel magteloos en weet nie hoe om hierdie routydperk te hanteer nie en in ons onkunde is ons soms geneig om dit verkeerd te hanteer.
Die belangrikste wat ‘n ouer vir sy kind kan doen is om hom die geleentheid te gee om sy pyn en hartseer op sy eie tyd te verwerk. Nie elke kind is dieselfde nie en sal op verskillende maniere hulle rou hanteer. Ouers sal vind dat sommige kinders aanhoudend sal huil of moontlik stilstuipe kry en soms in die middel van iets ‘n emosionele uitbarsting sal kry.
Hier volg ‘n paar dinge wat moontlik by kinders kan voorkom tydens ‘n afsterwe van ‘n geliefde:
Praat met jou kind oor dood.
Kinders moet voel dat dit normaal is om hartseer te voel as iemand oorlede is. Skep vir hulle ‘n veilige plek sonder oordeel en tug. Ons moet ons kinders verseker dat ons daar is as hulle oor enige iets wil gesels en dat ons hulle die geleentheid gaan gee om hierdie seer op hulle eie tyd te verwerk. Fisiese aanraking is noodsaaklik vir die jong kind om versorgd te voel en ‘n gevoel te vestig dat hy nie alleen is nie. Navorsing het getoon dat die volwassenes soms so besig om self te rou dat daar van die kinders se rou vergeet word en die gevoel van verwerping erger is as die seer van die afsterwe.
As ouer is dit altyd vir ons belangrik om ons kinders te beskerm en soms probeer ons ons eie gevoelens wegsteek, want ons wil nie ons kinders hartseer maak nie. Dit toon ‘n verkeerde beeld aan ‘n kind en skep die indruk dat mens jou gevoelens moet wegsteek. Sit eerder saam met die kind en gesels openlik oor hoe julle voel en dit skep ‘n atmosfeer van aanvaarding vir hoe ons voel.
Dis wel baie belangrik dat ons kinders nie die rol oorneem van trooster en primêre versorger nie.
Hartseer
Kinders wat baie hartseer en depressief raak benodig baie aandag en ondersteuning om oop te maak en hulle gevoelens te verwerk. Nie alle kinders het die verbale vaardighede om dit wat hulle voel met ons te deel nie. ‘n Baie bekende routerapeut, Helen Fitzgerald, noem ‘n paar aktiwiteite wat jy as ouer met die kind kan doen om te help:
• Maak ‘n plakboek met sentimentele en belangrike dinge van die oorledene
• Kyk na ou fotos en gesels oor waar en wanneer dit was
• Skryf ‘n brief aan die persoon

Woede
Woede en om kwaad te wees is soms ‘n makliker emosie om te hanteer as hartseer en verwyte. ‘n Kind se woede hoef nie altyd rasioneel te wees nie en kan soms vererger soos die gedrag homself voed. Woede is ‘n normale en belangrike stap tot genesing en ouers moet nie skrik as ‘n kind woedeuitbarstings kry nie. Dit is belangrik dat ‘n kind leer dat om kwaad te raak, normaal is en almal raak kwaad, maar die manier hoe ons optree wanneer ons kwaad is is wat ander seer maak.

Wag tot die kind bedaar voor jy die oorsprong van sy woede aanspreek. Wanneer beide van julle kalmer is, is dit ‘n goeie tyd om te gesels oor die oorsaak van die woede en saam kan julle dan kyk hoe om dit te verwek, wanneer die gevoelens ervaar word.
Verwyte
Soms kan kinders hulself verwyt oor iets wat gesê of gedoen is voor die persoon oorlede is. Soms het ma en dogter baklei of die kind het nie die geleentheid gehad om totsiens te sê nie. Met sulke gevoelens is dit belangrik dat dit aangespreek moet word. Laat kinders briewe skryf oor wat hulle nog wou sê. Die “Empty chair” tegniek is hier baie oulik. Soms is dit wel nodig om ‘n kind te neem na ‘n spesialis om die gevoelens te verwerk.
Vrese
Wanneer daar ‘n sterfte in ‘n gesin of familie voorkom, is dit moontlik dat die kinders sal begin om vrese te ontwikkel dat die ander ouer of lede van die familie ook gaan sterf. In sekere gevalle toon hulle tekens van skeidingangs en wil nie die ouer los nie, weens die vrees dat daar moontlik iets met hulle kan gebeur.
Hierdie gevoelens moet verstaan word deur ‘n ouer. Geduld en vertroosting is baie nodig om hierdie kind te help. Versekering en ‘n moontlike aandenking om hulle aan die ouer te herinner deur die dag kan goed werk.
Somatiese simptome
Soveel navorsing het al getoon dat spanning later fisiese probleme by mense veroorsaak. Dieselfde kan ervaar word met diepe hartseer en rou. Soms voel ‘n mens net siek, moontlik hoofpyne en veral met kinders kom maagpyn baie voor. Dit is heel normaal en ouers moet dit met begrip hanteer. Laat kinders vir jou vertel waaroor hulle gedink het toe die maagpyn begin het, of is daar enige iets waaroor hulle wil praat.
Regressie
Dis natuurlik vir iemand wat deur erge trauma gaan om terug te keer na ‘n tyd waar hulle die veiligste gevoel het. ‘n Kind sal weer verlang om soos ‘n baba hanteer te word. Hulle verlang om gesus te word en kan soms nie meer basiese ontwikkelings mylpale soos alleen in hulle kamer slaap hanteer nie.
Elke persoon hanteer die rouproses anders en dis belangrik dat daar nie sekere orde en vaste riglyne verwag word van ‘n kind nie. Laat die kind sy rouproses bepaal. Wees as ouer net daar om begrip te toon en ondersteuning te bied waar nodig. Wees eerlik met ons kinders oor wat gebeur het en gesels oor almal se gevoelens. Onthou dat woede en huilbuie normaal is en gee hulle die geleentheid om met vrymoedigheid uiting te gee aan hoe hulle voel.
Geskryf deur
Emsie Führi (Opvoedkundige Sielkundige)
Verwysing:
Helen Fitzgerald, The Grieving Child (New York: Simon &Schuster, 1992.)

Related posts

Leave a Comment