HEKEL IS MAGIC

hekel is magic foto (003)

Deur Esanne Horn
Ek hekel. Nee, ek is nie ‘n ouma met ‘n bolla en bewerige vingers nie. Ek is ‘n ma van 3 wat jeans en sneakers dra, ek weet van Facebook en Instagram en ek hekel. Ek is trots daarop, al word ek soms met vraende wenkbroue aangegluur. Ek glo vas dat hierdie glurendes my eerder sal omhels as hulle al ooit die “magic” beleef het van ‘n nuwe bol wol en ‘n projek sien vorm kry in jou hande. Ek moet bieg, ek is seker effens verslaaf…………daar is oral, regtig oral ‘n bol wol met ‘n hekelpen en een of ander half gehekelde skepping wat rondlê. Ek hou selfs ‘n projek in die kar net vir ingeval ek onverwags iewers moet sit en wag vir ‘n paar minute!
Ek dink hekel is deel van my DNA. Dit voel so half asof ek gebore is met ‘n bol wol en hekelpen in die hande. Ek glo dat ek my hekelvaardigheid “ge-erf” het by my ma, dit was sy wat my so oor die jare die liefde en vaardigheid vir hekel aangeleer het. Vandag hekel my ma en haar drie dogters heerlik saam en is ons mekaar se grootste bron van raad en inspirasie. Dit is maklik om as ek vasdraai of ‘n patroon soek sommer my vriendin Google te kontak, maar dit bly soveel lekkerder om ‘n hekel-kwessie te bespreek met mense na aan my hart wat my passie hiervoor deel.
Daar is min dinge vir my so lekker soos om iemand te leer hekel. Om te sien hoe iemand ‘n bol wol en hekelpen vat, sukkel-sukkel deurdruk en uiteindelik die vreugde ervaar van ‘n eerste voltooide hekelprojek, al is dit hoe krom en skeef! Dit is waarlik MAGIC!
Hekel doen iets aan die siel en dit bevorder vriendskappe. Hekel is ‘n wonderwêreld van kreatief wees en skep. Jy kan hekel vir ‘n inkomste of jy kan hekel vir liefdadigheid. Hekel op jou eie voor die kaggel of nooi ‘n paar vriendinne en hekel saam. Hekel ‘n dubbelbedkombers of hekel ‘n poprok vir Barbie. Maak nie saak hoe of waar of wat of waarmee jy hekel nie, begin net. Jy sal nie spyt wees nie. En ja, ek hoop dat wanneer ek 80 jaar oud is met my bolla in die ouetehuis dat ek en my vriendinne met ons bewevingertjies om ‘n lekker pot tee, of selfs ‘n lekker bottel wyn, sal sit en hekel en die Magic met ons kleinkinders sal deel!
“Being creative is not a hobby, it’s a way of life”

Related posts

Leave a Comment