ANNA SE AFFAIR – DIE EINDE

divorce

Ek was maar stil vir ‘n tydjie. My affair het op die lappe gekom.
Ek is die slegste vrou, ma, dogter, suster, skoondogter, vriendin, skoonsuster wat daar is. Almal kyk my met haat in hul oë. Ek weet dit moet baie erg wees vir almal. Ek verstaan die kwaad. Ek voel ook die pyn, maar ek het nie hiervoor gesoek nie. Ek het geglo ek is met my soul mate getroud. En eendag het daar ‘n man in my lewe verskyn wat my voete onder my uitgeslaan het.
Daar is ‘n aantrekkingskrag tussen my en Adrian. Daar is chemistry. Daar is geen ongemaklike stiltes nie. Daar is ‘n rustigheid in my wanneer ek by hom is. Voel hy dieselfde? Ek weet nie. Ons praat nooit daaroor nie, maar ek dink tog daar is iets. Is ek bereid om te skei vir hom? Nee. Ek sal skei omdat ek besef het ek is nie lief vir my man nie. Was ek lief vir my man? Ek weet nie. Ek twyfel, want as ek was sou Adrian nie gebeur het nie.
Ek dink wat my doel van die begin met hierdie blogs was, was om te sê ons “slegte” vrouens is nie noodwendig sleg nie. Ons gaan nie uit om iemand anders te ontmoet nie. Dit is iets wat gebeur het. Onverwags. Ek het ingestap en daar was iemand met wie ek net eenvoudig 150% geclick het. Sonder aansit, sonder moeite. As ek wil praat, laat hy my praat en wanneer ek die heeldag stil is, is hy ok daarmee.
Ek wil skei, nie omdat ek met ‘n slegte man getrou het nie, maar omdat ek voel hy verdien beter. Hy verdien iemand wie onvoorwaardelik vir hom sal lief wees. Dit is nie ek nie. Ek wens ek het dit voor ons troue geweet. Dan het ek nooit getrou nie, maar ek was jonk en kom uit ‘n huis waar daar geglo is jy moet trou. Ek was op die regte ouderdom om kinders te hê. En daarvoor moes ek ‘n man gehad het. Ek het hom ontmoet, van hom gehou. Ek het met my goeie vriend getrou. Daar was nooit werklik passie nie. Geen chemistry nie. Ons het goed oor die weg gekom. Lekker gesels. Ek het geglo dit is hoe dit moet wees. En hier kom ‘n man uit die bloute en wys my iets anders. ‘n Vuur wat binne my brand. ‘n Gevoel waarvan ek nog net gehoor het by ander mense. Is dit so verkeerd?
Is dit verkeerd van my om ook gelukkig te wil wees? Nie gelukkig met my goeie vriend, my man nie, maar werklik gelukkig. Opgewonde om saam iets te doen. Bly om mekaar te sien. Uitsien om hom te sien. Nie soos Graad 10 kinders nie, maar ‘n volwasse liefde met opwinding.
Ja, ek weet ek het kinders. En glo my, ek dink 24 uur per dag aan hulle, maar eendag is hulle uit die huis, en dan?
Geen berader sal my huwelik kan red nie. My man kyk my nie in die oë nie, hy slaap in die spaarkamer. Hy het gesê ons kan nie saam in die huis bly nie. Ek maak hom naar. Dit walg hom om in dieselfde huis as ek te wees. Hy haat my, maar ek weet dit sal eendag beter wees. Hy is seergemaak. Verneder. Hy sal later verstaan.
Gaan ek en Adrian trou? Ek weet nie. Dis nie vir my belangrik nie. Wil ek weer trou? Ek twyfel.
Al wat ek weet is ek is met die verkeerde man getroud en eendag sal almal my ophou haat.
Ek is nie ‘n slegte mens nie, ek het net oorhaastig getrou.

Related posts

Leave a Comment