OP MY EIE

Dont need you

Deur Jo Fourie

Life happens, ja dit doen, maar ek was  nie voorbereid hiervoor nie.  Ek het baie jare gelede op ‘n winderige dag voor die kansel van ‘n kerk gestaan met groot familie tradisie en gedink dit is my happy ever after.  ‘n Man wat vriendelik, gelukkig, snaaks, well liked deur ander mense en dis vir my fun om by hom te wees.  Liefde?  Ek weet nie, maar is dit altyd die belangrikste?  Ek was gelukkig – dit was belangrik.  Ek het uitgesien na die res van my lewe met kinders, ‘n hond en ‘n white picket fence.  En ons was gelukkig!  Vir baie jare.

Mense verander wanneer hulle ouer raak, dit verstaan ek.  Kyk, ek is nou nie die voorbeeldigste en maklikste mens nie.  Ek het soos elke ander mens my nukke en grille, maar soos my pa altyd gesê het, ek is daarmee gebore.  Ek is altyd die eerste een wat sê “jy het geweet waarmee jy trou, so moenie nou kla nie” wanneer mense sê hul mans doen niks, help met niks, het so baie verander, blah, blah, blah.  Ek sluk my woorde.  Ek is die afgelope paar jaar met ‘n vreemdeling getroud.  En hy raak net al hoe vreemder…

‘n Geruime tyd gelede het hy sy werk verloor.  Lang storie kort, hy het sy persoonlikheid saam met die werk verloor.  Ek verstaan, dis ‘n groot ding.  Glo my, ek verstaan.  Ek het my luukse, baie gemaklike gesinsmotor verkoop om geld op brandstof, maandelikse premie, versekering en onderhoud te spaar.  Om hom die verleentheid te spaar, het ek maar altyd die uit waarborg storie gespin.  Hy ry steeds sy luukse voertuig.  Ek het opgehou om myself met al my “bederfies” te bederf.  Dit sluit in salon afsprake, die hare word nie meer so gereeld gedoen nie, me-time.  Hy het steeds sy “men’s weekends” saam met pelle en speel op ‘n baie gereelde basis golf – jy weet, hy het wegkomkans nodig.

Dit is ‘n konstante bakleiery.  Met my en veral ons oudste.  Niks wat ons doen is ooit goed genoeg nie.  Wanneer hy by die motorhuis intrek, trek my maag op ‘n knop, want al wat ek kan dink is:  wat nou weer.  Waaroor gaan hy nou weer moan wat ek vergeet het om te doen.  Die geringste dingetjie uit plek is ‘n issue.  Een moerse issue wat in ure se preke en baklei ontaard.  Preke oor hoe ondankbaar ons is vir alles wat hy vir ons doen.  Hoe ons hom nie waardeer nie en hoe niemand ooit vir hom luister nie.  Ek is so gatvol.  En ek kan sien my oudste seun is ook.  Daar is tye wat hy net sy pa sit en kyk, maar jy kan sien die lus om hom te lyf te gaan is so naby.

Hy het MY geld gebruik om ‘n “belegging” by iemand te maak.  Een wat ek hom oor en oor gewaarsku het is skelm, my geld is weg saam met die “belegger”.  Hy het ons mediesefonds gekanselleer, versekering gekanselleer en ek weet op hierdie stadium eintlik steeds nie wat presies nog alles gekanselleer is nie.  Hy het nie met my hieroor gepraat nie, dis goed wat ek met die verloop van tyd uitgevind het.  Wat as een van my kinders siek word of seerkry?  Wat as iemand inbreek of ons in ‘n ongeluk is?  Wat dan?  Ek spandeer volgens hom te veel geld, maar hy is alreeds besig om aan die volgende manne naweek te beplan.  Dis skoolklere, skoolkampe, boeke en tasse.  Brandstof gaan op en kospryse is astronomies, en hy het my verlede week meegedeel daar sal van nou af geen meer finansiële ondersteuning van sy kant af wees vir my en die kinders nie.

Ek lê nagte wakker, dwaal deur die huis terwyl almal slaap om aan planne te dink – net om kos op die tafel te sit.  Kom hier mense is dit al wat ‘n troetelnaam vir my is voor en agter.  Ek het so ‘n weersin teenoor hom, ek wil my goed vat en weghardloop. Maar waarheen gaan ek?  Ek los onder geen omstandighede my kinders hier nie!  Ek moet sterk wees vir hulle.  Ek wil nie hê hulle moet in ‘n huis grootword waar daar heeldag en aldag baklei word nie.  Ek glimlag en sluk trane en bly stil wanneer hy skel (wat hom net nog meer kwaad maak) en gaan aan met die lewe.  Wanneer gaan dit stop?

Wie is ooit daar vir my wanneer ek wil opgee?  Nadat ek weereens hierdie naweek besef het mense is net daar vir jou terwyl dit vir hulle gemaklik is.  Mense is net daar wanneer hulle nuuskierig is om te weet wat in jou lewe aangaan en dan gooi hulle jou eenkant.  Jy praat jou hart uit met iemand en vandaar voel hulle ‘n veer vir jou.  Die een wie jy gedink het sal jou ondersteun, wat gesê het, hey praat met my ek is hier, is net soos al die ander.  En jy besef jy het eintlik maar net ‘n klomp mooiweersvriende in jou lewe, want as hulle regtig omgegee het, sou hulle gesien het daar is fout.

Vals profete van vriendskap.  Dis ‘n teleurstelling, ja, maar wat kan ek daaraan doen?  Ek is hier vir my kinders, en ek sal my vingers af werk om vir hulle te sorg.  Ek het die afgelope tyd geleer:  wees daar vir jouself, want niemand anders gee om nie.

Related posts

Leave a Comment