IS TANNIE AL GEHELP?

wrinkles

Deur Gerda Niemann

Die naweek was ek by ‘n musiekfees. Weke gelede het ek ‘n boodskap by ‘n vriend gekry dat my huidige gunsteling sanger daar gaan optree. Sonder om werklik te dink of beplan het ek ingestem om te gaan en die weke afgetel. Ek reël toesig vir my dogtertjie en die skuldgevoel vreet my op. Ek is mos ‘n ma en mag nie dinge doen sonder haar nie? Is dit werklik so of maar net hoe ons gekondisioneer is? Ek het die skuldgevoel opsy geskuif en besluit om een naweek vir myself te vat. Ek het seker gemaak sy is in die hande van mense wat hul lewens vir haar sal opoffer en toe my naweek beplan.
Die naweek breek aan en ek is opgewonde. Ek werk my uitrusting al vir weke uit en was my hare met spesiale sjampoe. My naels word gedoen en ek doen spesiaal moeite met my grimering.
Daar gekom gebeur dit eerstens by die hek: “Is tannie hier vir die fees?” Duidelik lieg die onderlaagadvertensie – my plooie is dan nog sigbaar, hoe weet hierdie meisie ek is ouer as sy?
Dit gebeur by die ingang: “Het tannie al ‘n kaartjie gekoop?” Is dit omdat ek ‘n hemp aanhet wat my arms halfpad toemaak (slegte gene) en my lyf nie adverteer nie dat hierdie seun weet ek is nie tussen 20 en 30 nie? Ons gaan in en kry sitplek – in die koelte natuurlik. Ek probeer wild wees en besluit om vir my iets te kry om te drink. By die kroegtoonbank bestudeer ek eers wat daar is. Die slushie met een of ander mengsel in lyk vir my reg. Ek bestel en betaal en daar gebeur dit weer: “Is tannie al gehelp?” Ek mompel maar saggies dat ek reeds gehelp is en die seun beweeg aan. Ek het hom vergewe, want hy het vreeslike mooi oë. Toe die drankie klaar is dink ek dat ek seker iets moet eet – ek besluit toe op iets veilig en maklik om te eet sonder om alles te bemors. Ek staan in die ry en wil bestel en wragtig: “Wat kan ek vir tannie kry?”
So was dit die hele aand. Tannie voor en tannie agter. Elke keer wat iemand my dit noem voel dit asof hulle nie werklik met my praat nie. Ek is dan tog nie ‘oud’ nie? Tannies is mos oud of hoe? Ek dink hieroor na, ek besef dat ek dalk tog op ‘n manier een is. Is dit ouerskap of ouderdom wat dit meebring?
Ek lag vir myself toe ek die waarheid van wat ek geword het besef: Ek het gehoop die karwag het ‘n sambreel of iets, want die son is gevaarlik (mamma-instink). Ek het die papiere en glase weggegooi in die asblik (mamma-instink). Die musiek was soms bietjie hard vir my (ouderdom). Ek sit en kyk na die jongmense en is dankbaar ek is nie meer 20 nie (ouderdom). Ander mense se kinders hardloop rond en speel op die gras en ek verlang na myne (mamma-instink). Ek is voor tien by die huis (ouderdom).
Dit was ‘n lekker naweek en ek is nie spyt ek het gegaan nie. Tannie is steeds nie vir my ‘n lekker woord nie en sal seker nooit een wees nie. Tog is ek dankbaar. Oud word is nie maklik of lekker nie, maar dit bring soveel meer dinge as hang borste en plooie met dit saam. Terwyl ek sit en kyk na die jongmense wat so onseker is van hulself en soveel druk en verwagtinge ervaar, glimlag ek. Dankie tog ek is verby dit. As jy so ‘oud’ word soos ek besef jy dat die lewe kort is en daar soveel belangriker dinge is as om iemand te probeer beindruk of ander mense gelukkig te probeer hou.
Jy leer hierdie goed met tyd en ek glo dis hoe dit moet wees. Oor ‘n paar jaar is daardie jongmense ook ‘n tannie en ‘n oom. As jy dalk een van daardie jonger mense is wat hier lees, onthou die: Jy is so oud soos jy voel. Hou op worry oor wat die mense gaan sê – hulle is tog net so onseker soos jy. Jou lewe kan in ‘n oogwink verander. Leef dit – al is jy nou jonk of oud.

Related posts

Leave a Comment