“LETTING GO” IS BLIKSEMS MOEILIK

love-2303532_960_720

DEUR JOHANISE FOUCHE
Vandag het my oudste sy laaste laerskool eksamenvak geskryf.

Vroegoggend is hier groot opwinding in die huis. Ouboet maak klaar met eksamen en die geskel en gedreig met leer en druip is uiteindelik verby en ons kan weer begin normaal asemhaal. Ek beplan ‘n gesinsaand uit na sy gunsteling “burger joint” om die groot dag te vier. My bubble word egter gebars met ‘n vriendin wat my meedeel dat die “manne” planne het met ‘n paar girls, nogal in Claremont. Vervoer is alreeds gereel en vaagweg onthou ek van hierdie aand.

Skielik besef ek hy is groot. Die dae wat ons saam die einde van eksamens gevier het is verby. Dit is nou baie lekkerder om dit met jou pêlle te vier as met jou ma – en ek verstaan dit. Ek vertel myself nog heeldag dis normaal. Dis normaal vir hom om nie eers te worry oor ‘n moederhart wat ‘n verrassing gereel het nie. En dis normaal vir my om effens afgehaal te voel.
Ek besef ook dit gaan nie die laaste keer wees nie. Daar gaan baie vieringe sonder my wees. En dis moeilik. Dis bliksems moeilik om daardie spesiale oomblikke met sy pêlle en vriendinne te deel, want dis my oomblikke met hom. Ek wil vanaand saam met hom sit en lag oor al die baklei die afgelope drie weke. Ek wil die een wees wat vanaand gemorskos eet en te veel koeldrank (ok, ek sal wyn drink) drink saam met hom.

Dit werk nie meer so nie. Ek moet leer om te let go. Ek moet leer dat hy ‘n groot mens raak. Dat ander dinge vir hom belangrik raak. Vriende, meisies, parties. Ek moet leer dat ek nie met elke gebeurtenis daar kan wees om sy hand vas te hou nie. Ek moet leer dat hy nie wil hê ek moet met alles daar wees nie.
Ek moet aanvaar dat dit ok is. Dit is normaal. Hy is normaal. Dit beteken nie ek is nie meer belangrik in sy lewe nie. Dit beteken net hy raak groot. Ons gaan nog ons spesiale tye hê. Dit gaan net anders wees, maar dis vrek moeilik!

Ek wonder of hy besef hy gaan moet geduldig wees met sy ma. Hy gaan moet verstaan dis vir my ook ‘n leerproses. Hierdie hele blerrie tienerfase is een groot donnerse leerproses. Daar is dae wat my hart bars van trots en dae wat my hart breek van frustrasie. Hy gaan moet verstaan dat ek gewoond is aan my kleine kind. Nou is sy voete dubbel my voete se grote en ek verdrink in sy sweetpak tops. Hy moet verstaan ek moet nog gewoond raak aan die manslyf in my huis. Nie meer die seuntjie lyf van begin van die jaar nie. Hy moet verstaan dat ek skrik wanneer sy stem skielike van-noot-af geluide maak en dat ek verkies dat hier meer gereeld broeke gedra word.

2018 is die einde van ‘n hoofstuk in ons huis. Volgende jaar speel hy rugby met toks, hy speel krieket met ‘n langbroek, hy gaan na skoolsokkies gaan (is daar nog skoolsokkies??), hy gaan seker begin skeer (ek weet nie, want ons was net dogters), hy gaan soos ‘n man klink wanneer hy die telefoon antwoord, sy hart gaan moontlik vir die eerste keer gebreek word, hy gaan hoërskool toe, hy gaan nuwe vakke neem, nuwe boeke lees, nuwe onderwerpe hê om met ons mee te gesels. Hy gaan kan begin kosmaak, sy kosblik self pak (sal ek OOIT so gelukkig wees), hy gaan kan braai, hy gaan ‘n volwassene wees (is hulle ooit regtig volwasse?). Hy sien uit na volgende jaar en ek is saam met hom opgewonde.
Die naweek gooi ons sy laerskooltas weg. Hier is geen laerskool handboeke meer in my huis nie. Die uniform is opgedra en moet ook drom toe.

Vanmiddag toe ek hom aflaai by sy vriende se huis gee hy my ‘n lang soen op my voorkop met ‘n love you Mamps.  Ek jaag hom uit die kar sodat hy nie die trane kan sien nie – ek moes ook vanmiddag plegtig belowe dat ek nie die laaste dag van skool by die saalbyeekoms sal huil nie.   Sy laaste laerskool saalbyeenkoms – ons is glo genooi.

Dit is ‘n totaal nuwe fase in my huis. Hy sal moet geduldig wees met sy ma. En sy ma gaan moet begin let go, al is dit bliksems moeilik.

Related posts

Leave a Comment